Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA

SARLNUUS SONDAG 07 OKTOBER 2007

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Om na oudio via die web, of dmv. Echolink deur ZS6FCS te luister, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui.

Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is Johan, ZS6JPN, vanuit Pretoria met herleidings op 51,400, 10,135, 7,066 en 3,695 MHz asook 438,825 en 1 297 MHz in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTELS

Dit spyt die Pretoria Amateurradioklub om te moet aankondig dat Don Blackburn, ZS6CRT, se sleutel verlede Dinsdag stil geraak het na ‘n moedige stryd met kanker. Don was ‘n vorige voorsitter van die klub. Ons innige simpatie aan sy eggenote Sue, ZS6SUE, en hul kinders Jonathan, ZR6JON, en Samantha.

Die sleutel van Peter Finlay, ZS5ADN, het op 23 September na ‘n lang siekte stil geraak. Aan sy familie en vriende, ons innige meegevoel.

Sharief Osman, ZS1SSB, bekend as Ozzy, sterf op die ouderdom van 42 op die 22 September 2007. Ons innige meegevoel aan sy eggenote Amina, 3 kinders, ander familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

2008 SARL NASIONALE KONVENSIE — ‘N FEES VAN AMATEURRADIO

INTEGNET EN PRESIDENTSNET VANAAND

UITBREIDING AAN DIE 40 METERBAND

PROSES VIR OPSTEL VAN KONSEP KLT-REGULASIES GAAN VOORT

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

2008 SARL NASIONALE KONVENSIE — ‘N FEES VAN AMATEURRADIO

Die 2008 SARL Nasionale Konvensie sal van 11 ot 13 April in Bloemfontein gehou word en dit beloof om ‘n naweek van aktiwiteite in amateurradio te wees soos wat Suid-Afrika vir baie jare nie beleef het nie. Die gashere vir die naweek sal die Bloemfontein Amateurradioklub wees en dit sluit op Vrydagaand ‘n besoek aan die Boyden sterrewag in. Die Algemene Jaarvergadering sal op Saterdagoggend plaasvind en gevolg word deur ‘n demonstrasie in jakkalsjag dmv. amateurradiorigtingpeiling en verskeie tegniese sessies dekkende HF, BHF en Hamnet.

Besoeke aan die Leeubergmuseum en Onse Rust sal gereël word met die feestelike toekenningsdinee in die Kommandorestaurant. Die naweek sal afgesluit word met ontbyt Sondagoggend en ‘n besoek aan die ZS9X-kompetisiestasie.

Die organiserende komitee is in verbinding met SA Airlink om spesiale reis- en akkomodasiepakette aan te bied. Teken nou die datum aan en bly ingeskakel. Inligting sal spoedig op die web verskyn.

INTEGNET EN PRESIDENTSNET VANAAND

Die Presidentsnet kom vanaand, 7 Oktober, om 19:00 byeen en word deur Integnet gevolg.

SARL-President, Graham Hartlett, sal praat oor planne vir die 2008 AJV en nominasies vir raadslede wat binnekort moet plaasvind. Hy sal ook praat oor die prosedure wat deur geaffilieerde klubs gevolg moet word om die Klas B eksamen vir hulle studente aan te bied. Na sy aanbieding sal die volledige eksamenprosedure en vorms in die afdeling vir lede alleen op die SARL se webwerf beskikbaar wees.

Die bespreking op Integnet sal gaan oor die HMO/SARL-bakenprogram en sal deur Dr Lee-Anne McKinnell van die HMO gelei word. John Willescroft, ZS6EF, wat die bakentoerusting bou, sal oor ontwerp- en bedryfsaangeleenthede praat. ‘n Powerpointaanbieding is op die web www.sarl.org.za beskikbaar, klik op ARMI.

Klubs wat hulle herhalers aan die net wil koppel, stuur asb. die telefoonnommer aan armi@sarl.org.za teen middag vandag.

UITBREIDING AAN DIE 40 METERBAND

Die SARL ontvang gereëld vrae van die amateurs aangaande die uitbreiding aan die 40 meterband. Hierdie aangeleentheid is bo-aan die agenda van interaksie met OKOSA. Daar is egter verskeie probleme wat oorkom moet word. Een daarvan is dat Suid-Afrika se seinverskaffer, Sentech, nog daardie segment gebruik en na hoër in die band sal moet verskuif. Die SARL is besig om die aangeleentheid met Sentech te bespreek. In ooreenstemming met die ITU-ooreenkoms het Sentech die reg om daar tot 2009 uit te saai.

HET JY JOU LIGALEDEGELD BETAAL?

Rekeninge is in Junie uitgestuur met opvolgrekenings in Augustus en September. Indien jy nognie jou lidmaatskap hernu het nie, doen dit asb. sonder versuim. Lede wat nie teen die einde van Oktober hernu het nie, sal nie langer Radio ZS ontvang nie en sal ooknie toegang tot die afdeling vir lede alleenlik op die SARL se webwerf hê nie. Jou lidmaatskap belangrik vir amateurradio; die kollektiewe spreekbuis vir amateurradio is die SARL, die Nasionale Liggaam vir Amateurradio, wat sterk en verteenwoordigend moet wees. Jou lidmaatskap maak die verskil. Indien jy nie alreeds ‘n lid is nie, dit is nooit te laat om aan te sluit nie. Aansoekvorms is beskikbaar op www.sarl.org.za.

PROSES VIR OPSTEL VAN KONSEP KLT-REGULASIES GAAN VOORT

OKOSA het die TC80-vergadering verlede Donderdag meegedeel dat die konsepregulasies vir KLT, Kraglyntelekommunikasie, komende Donderdag aan die Standaarde Skakelkomitee, SSK, vir bespreking voorgelê sal word. Die SARL het meegedoen aan die opstel van die tussentydse regulasies en het sekere eise gestel soos byvoorbeeld dat alle HF-amateurbande permanent uitgesluit word. Die SARL se standpunt is van kennis geneem, maar dit word gemerk dat geen uitsluiting ingesluit is in die finale konsep wat deur die SSK bespreek gaan word nie. Positiewe aspekte van die konsepregulasies is die insluiting van ‘n steuringsonderhandelingsproses en die vereiste dat ‘n publieke toeganklike databasis van KLT-installasies ingestel en bygehou sal word. KLT-verkopers moet ook kennis gee van beplande installasies.

Die SARL het verder ook onder OKOSAse aandag gebring dat internasionale ondervinding getoon het dat steuringstandaarde wat op FCC-perke gebaseer is onvoldoende is en dat dit tot onnodige onderhandelingsprosesse sal lei. ‘n Onlangse verslag deur die ARRL se laboratorium, wat die tekortkominge van die FCC-regulasies blootlê, is ook ingedien.

Verskeie addisionele probleme is ook uitgelig tydens die TC80-vergadering en dit sal deur die voorsitter van die TC80-komitee se werkgroep oor elekromagnetiese versoenbaarheid by die SSK-vergadering, waarvoor hy uitgenooi is om by te woon, bespreek word.

Nadat die finale konsep deur die SSK aanvaar is, sal die konsepregulasies in die Staatskoerant vir kommentaar gepubliseer word. Die SARL berei reeds kommentaar voor wat gebaseer is op die reeds bekende aspekte van die konsepregulasies en sasl sy o9bjeksies wysig sodra die finale konsep gepubliseer is. Dit word verwag dat die SARL ook die publieke verhore van kommentaar sal bywoon.

AMATEURRADIO: RIGTINGPEILING

Gedurende verlede week se Raadsvergadering is bespreking gewy aan die toekomstige deelname deur Suid-Afrika aan kompetisies in amteurradiorigtingpeiling wat jaarliks deur die IARU in Europa gereël word. Op aanbeveling deur die voorsitter van die IARU se ARDP-komitee, Reinhardt Floesser, is dit besluit om eers ARDP op 80 m aan te pak. Die rede hiervoor is dat daar op 2 m te veel weerkaatsings plaasvind wat vir die nuweling probleme veroorsaak in ‘n multisenderkompetisie, wat die standaard van die IARU is. Riftingpeiling op 2 m sal later bygevoeg word. Die internasionale kompetisies vind in twee kategorieë nl. HF en BHF plaas.

Die SARL bestudeer die verskillende kringe en boustelle wat beskikbaar is en ontvang graag insette van klubs en individue. Stuur asb. jou kommentaar aan zs4bs@netactive.co.za. ‘n Integnet met Rynhardt Floesser word vir 25 November beplan.

JOTA EN JOTI 20 TOT 21 OKTOBER

Dave Gemmell, ZS6AAW, DIE Nasionale Ko-ordineerder vir JOTA in Suid-Afrika maak bekend dat Jamboree-on-the-Air, JOTA, en Jamboree-on-the-Internet, JOTI,op 20 en 21 Oktober sal plaasvind.

Baie dankie aan Evan Davies, ZS6EVD, Eddie Leighton, ZS6BNE, en die Lichtenburg ARK wat ZS50MAF in Mafikeng beplan het en gaan bedryf.

Hierdie jaar is dit die 50ste JOTA en die 11de JOTI en dit is nie te laat om nog ‘n JOTA-stasie aan die gang te kry wat binne ‘n uur of so opgerig kan word nie.

Indien padvinders jou nognie gekontak het nie, nooi hulle uit vir ‘n dag of naweek om met antennas te eksperimenteer en met lokale of oorseese JOTA-stasies kontak te maak. Stel hulle ebkend aan die verskillende modusse soos GG, RTD, PSK 31,ECHOLINK, Skype ens. vanaf julle klubhuis, tuis of waar ook al.

Onthou, registreer jou stasie as ‘n opvoedkundige stasieby die SARL minstens 7 dae voordie gebeurtenis sodat jou ongelisensieerde gaste ook jou sendertoerusting onder jou toesig mag gebruik en dus maksimum genot uit die gebeurtenis kan put. Vorms vir hierdie doel is beskikbaar by www.sarl.org.za.

Meer internasionale inligting kan verkry word vanaf www.jota.org of www.jotajoti.org.

LENTE QRP SPRINT

Nege logstate is ontvang vir die Lente QRP Sprint wat op Sondag 9 September gehou is, 4 in die 5 watt klas en 5 in die 1 watt klas. Die uitslae is as volg:

5 Watt:
1ste Vidi, ZS1EL 2 992 punte;
2de Ruaan, ZS6RMS 1 600 punte;
3de Oakdale ARK, ZS1OAK 1 540 punte;
4de Allen, ZR1AAH 864 punte.

1 Watt:
1ste Jan, ZS4JAN 15 120 punte;
2de Andre, ZS2ACP 12 960 punte;
3de Pam, ZS6APT 3 960 punte;
4de Pierre, ZS6BQS 2 520 punte;
5de Franz, ZS6EU 640 punte.

Baie geluk aan die wenners!

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak baie laag sal wees. Die verwagte geomagnetiese veld sal stil wees behalwe gedurende 17 tot 19 Oktober wanneer lae stormvlakke verwag word. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Met somer in die lug is die DX-toestande ook gelukkig bietjie meer rooskleurig.

15 m en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf 10:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlikheid van 20 m-openinge na Australië vanaf 06:00. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike 15 en 20 m-openinge na Europa. Vanaf ongeveer 18:00 is daar moontlike 15 en 80 m-openinge na die VSA.

Vir die morsekode- en digitale entoesiaste sal dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Plaaslik gaan toestande gedurende die dag op 40 m goed wees en selfs 30 m behoort goed oor die langer afstande te werk. Verder is dit nou weer die tyd om saans kontakte te maak vir jou 80 m WAZS-toekenning.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou nog steeds kan verras. Skakel jou stel aan,luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

7 Oktober, vanaand – Presidentsnet en Integnet;
18 Oktober - Klas A RAE;
20 Oktober – Kommentaar oor SARL 2008 Kompetisiehandboek moet ingestuur wees;
20 en 21 Oktober – JOTA en JOTI.

Sarlnuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003